Gaan na inhoud

Ietermago

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur EmausBot (besprekings | bydraes) op 15:05, 8 Februarie 2013 (r2.7.2+) (robot Bygevoeg: ceb:Pholidota)

Ietermagog
Manis javanica
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Infraklas:
Superorde:
Orde:
Pholidota

Weber, 1904
Familie:
Manidae

Gray, 1821
Genus:
Manis

Linnaeus, 1758
Spesies
Sien teks

Die ietermagog is 'n soogdier in die order Pholidota. Daar is slegs een oorgeblewe familie (Manidae) en een genus (Manis), wat uit agt spesies bestaan. Daar is ook 'n aantal uitgestorwe taksonomiese groepe. Ietermagogge is die enigste soogdiere wat harde skubbe op hulle vel het. Hulle word in die tropiese streke van Afrika en Asië aangetref. Die ietermagog word soms met die Amerikaanse gordeldier vergelyk, maar dié het 'n beenagtige dop en word onder 'n ander familie en orde geklassifiseer.

Die naam "ietermagog" is waarskynlik afkomstig van Tswana: machocho ("mier") of magogwe ("ratel"). Die woordvorming van "ietermagog", asook die habitat en rol van die dier in die bygelowe van inheemse Suid-Afrikaanse stamme, ondersteun dié herkoms van die woord.

Ietermagogge is nagdiere en gebruik hulle goed ontwikkelde reuksintuig om insekte te vind.

Voorgeskiedenis

Ietermagogge het reeds miljoene jare gelede voorgekom en was vroër meer wydverspreid as vandag. Ietermagogfossiele wat uit die Oligoseen en Mioseen dateer is in Europa gevind. Ook in Asië, waar die dier tans nog voorkom, is fossiele geving wat uit die Pleistoseen dateer.

In Afrika is daar slegs een fossiel gevind, moontlik dié van Manis temminckii, in die Nelsongrot naby Plettenbergbaai. Dié fossiel dateer uit die Laat-Pleistoseen.

Identifisering

Die verskillende spesies lyk baie op mekaar en verskil net bietjie in bou en lengte. Die algemene ietermagog het 'n langwerpige liggaam, met 'n rug, pote en stert wat met geelbruin, grysbruin of donkerbruin skubbe bedek is. Dié skubbe is gemaak van keratien (ook bekend as "horingstof"), dieselfde materiaal waarvan 'n mens se vingernaels en die kloue van viervoeters gemaak is. 'n Pasgebore ietermago se skubbe is sag, maar verhard namate die dier ouer word. Die skubbe oorvleuel mekaar. Slegs die kop, keel, pens en binnekant van die pote is nie met skubbe bedek nie, maar met hare.

'n Ietermagog het 'n klein, silindriese kop met swakontwikkelde, beweegbare kake. Die dier het geen tande nie, maar wel 'n lang, klewerige rekbare tong, wat tot in die buikholte strek. Groot ietermagogge kan hulle tonge sover as 40 cm na buite strek. Ietermaggogge se uitwendige ore is baie klein, of heeltemal afwesig; hulle gesisvermoë is beperk, maar hulle het goed ontwikkelde reuk-, smaak- en gehoorsintuie. Die voorpote is aansienlik kleiner as die agterpote en het sterk kloue waarmee mier- en termietneste oopgebreek kan word. Die voorpote is egter te klein om die dier se gewig ten volle te ondersteun en 'n ietermagog hardloop dus op sy agterpote.

Die spesies wat boombewoners is, besit 'n stert wat langer is as die liggaam self. Die stert het 'n kaal strook aan die einde wat as 'n klou- of grypledemaat gebruik kan word tydens boomklim. Grondbewoners het nie hierdie kaal strook nie en hulle sterte is heeltemal met skubbe bedek, asook 'n bietjie korter as die liggaam self.

Die reuse-ietermagog is die grootste spesie, met 'n liggaam tussen 75 en 80 cm en 'n stert tussen 55 tot 65 cm.

Verspreiding

Elke spesie het 'n spesifieke verspreidingsgebied en dié is dan ook soms aan die naam te sien, bv. die Indiese ietermagog (Manis crassicaudata), wat in Indië en Sri Lanka voorkom. Die Sjinese ietermagog, Manis pentadactyla, op Formosa en in Suid-Sjina voor, terwyl die Maleise ietermagog, Manis javanica, op die Maleise Skiereiland, in Birma, Indo-Sjina, Laos, Sumatra en Borneo aangetref word. Die Filippynse ietermagog, Manis culionensis, kom op die Filippynse eilande Palawan en Culion voor.

Die ander vier spesies word almal in Afrika aangetref. Die Suider-Afrikaanse ietermagog (Manis temminckii) word in die ooste en suide van Afrika aangetref, van die Kaapland tot in Ethiopië. Die reuse-ietermagog verkies reënwoude en bewoon 'n streek wat langs die ewenaar strek, van Wes-Afrika tot in Oeganda. Die Suid-Afrikaans ietermagog en die reuse-ietermagog (Manis gigantea) is altwee grondbewoners, terwyl die ander twee Afrika-spesies boombewoners is. Die boom-ietermagog (Manis tricuspis) is 'n klein ietermagog wat in tropiese reënwoude aangetref word van Senegal tot Wes-Kenia en suid tot in Zambië. Die langstert-ietermagog (Manis tetradactyla) is ook 'n liefhebber van reënwoude en kom suid van die Sahara voor, maar nie so ver suid as die Suider-Afrikaanse ietermagog nie.

Spesies

Bronnelys

  • Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Tegn. red.: G.J. van Wyk. Outeurs: A. E. Cloete, A. Jordaan, H.C. Liebenberg, H.J. Lubbe. 2003, Stellenbosch: WAT.
  • Ietermago in Wêreldspektrum, volume 11. 1983 Ensiklopedie Afrikana: (EDMS) BPK.
  • Giant pangolin, by die BBC se Science and Nature-webwerf.

Sjabloon:Link FA