Gaan na inhoud

Suidelike Verenigde State

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Suidelike Verenigde State - dikwels ook die Suidstate, Suidelike State, die Amerikaanse Suide, Dixie, Dixieland of net die Suide genoem - is 'n streek van die Verenigde State van Amerika (VSA). As 'n hoofsaaklik kulturele en historiese konsep dek die Amerikaanse Suide nie juis die geografiese suide van die land nie, maar eerder 'n gebied in die suidooste van die VSA wat sowat 1 200 myl weswaarts vanaf die Atlantiese Oseaan strek.[1] So word die deelstate Arizona en Nieu-Mexiko ongeag hul ligging in die suidelike deel van die land nouliks by die Suidelike Verenigde State gereken nie, terwyl Wes-Virginië, wat in 1861 van die deelstaat Virginië afgeskei het, wél as deel van die Suide beskou word.[2][3]

Sommige wetenskaplikes het afwykende definies vir die Amerikaanse Suide ontwikkel wat nie noodwendig met deelstaatgrense ooreenstem nie.[4][5] In elk geval vorm die Amerikaanse Suidstate een van die grootste streke en landskappe van die VSA wat tydens 'n groot deel van die 19de en 20ste eeu afgesny was van die hoofstroomontwikkelinge in die Ameruikaanse kulturele en ekonomiese lewe.[6] Interessant genoeg het die unieke karakter van die Amerikaanse Suide, waarmee hy algemeen geassosieer word, eers in die 19de eeu ontwikkel, ofskoon die Suide reeds vanaf die Britse koloniale tydperk sowel in ekonomiese asook politieke opsig as 'n streek uit eie reg beskou is.

Die koloniale boukuns, stadsuitleg, algemene materiële kultuur en selfs die eetgewoontes van sy bewoners is oorspronklik uit Europa oorgeplant en het nog tot in die vroeë 19de eeu nouliks verskil van dié in die Amerikaanse Noorde. Eers toe die samelewing in die Noordstate ekonomies en kultureel geïndustrialiseer is, het Noorde en Suide uiteenlopende paaie begin volg waardeur die Suidstate hul eie kulturele identiteit ontwikkel het. Hierdie sigbare kulturele verskil het uit tradisies voortgespruit waaraan die Suide vasgehou het terwyl hulle elders in die Unie as verouderd beskou is en in vergetelheid geraak het.

Bepalende faktore by die uiteenlopende kulturele, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in die Suidstate was die monokultuur-verbouing van tabak, katoen, rys en ander gewasse, afhangende van die substreek, in 'n plantasiestelsel; die etniese samestelling met 'n groot persentasie Afro-Amerikaners, van wie honderdduisende as slawe aangehou is; wydverspreide armoede wat maatskaplike, ekonomiese en tegnologiese vooruitgang teengewerk het; en die maatskaplike en ekonomiese isolasie ná die Amerikaanse Burgeroorlog.[7]

Verwysings

  1. Charles Reagan Wilson (General Editor): The New Encyclopedia of Southern Culture: Volume 2: Richard Pillsbury (Volume Editor): Geography. Kindle-e-boek. Chapel Hill: The University of North Carolina Press 2006, pos. 260
  2. Southeastern Division of the Association of American Geographers
  3. Geological Society of America
  4. Joel Garreau: The Nine Nations of North America. Avon Books 1982
  5. Colin Woodard: American Nations: A History of the Eleven Rival Regional Cultures of North America. Penguin Books 2012
  6. Pillsbury (2006), pos. 260
  7. Pillsbury (2006), pos. 260