Gaan na inhoud

Rasionalisme

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die rasionalisme is 'n filosofiese stroming waarvan die vertrekpunt is dat die rede die enigste of vernaamste bron van kennis is. Die werklikheid het volgens rasionaliste 'n inherente redelike en logiese struktuur wat vanweë hierdie feit ook direk deur die verstand verstaan kan word sonder enige tussenkoms van iets anders as die denke self. Dit is in teenstelling met stelsels wat hoofsaaklik op openbaring of tradisie gebaseer is, of stelsels wat die ervaring aandui as die vernaamste kennisbron (empirisme). Hierdie stroming gedy veral in die 17de eeu in Europa, veral in Frankryk en Duitsland, terwyl die teenpool, die empirisme, veral populêr was in Groot-Brittanje. Die groot name binne die rasionalisme is René Descartes, Baruch Spinoza en Gottfried Leibniz. ‘n Tweede generasie rasionaliste sluit in Arnold Geulincx, Nicolas Malebranche en Christian Wolff.

Naas die filosofiese rasionalisme is daar ook 'n religieuse of godsdienstige rasionalisme wat die geloofswaarhede wil (laat) verantwoord via die persoonlik denke. Ook die Middeleeuse leer van die fides quaerens intellectum (die geloof wat na die rede soek) word binne die religieuse domein wel as rasionalisme beskou.

Antieke tye

[wysig | wysig bron]

Die rasionalisme word in die klassieke antieke tye veral inhoud gegee deur filosowe wat skepties teenoor ervaring as bron van kennis staan. Hiervan was Plato die bekendste, maar nie die enigste nie. ‘n Belangrike wegbereider van Plato was Parmenides. Parmenides kan beskou word as die eerste ontoloog of metafisikus. Waar vroeër natuurfilosowe hulself fokus op die verklaring van die natuurverskynsels rondom hulle, fokus Parmenides homself op die begrip van die syn of synde self. Om tot insig te kom in die ware syn, maak hy slegs gebruik van die denke en verwerp die sintuiglike "skynwêreld" as 'n foutiewe bron. Die syn of synde is volgens Parmenides altyd één, onbeweegbaar, ondeelbaar en volmaak. Waargenome dinge kom egter altyd voor as 'n veelheid, veranderlik, deelbaar en onvolmaak, daarom dat die waarneming ook aan ons geen kennis kan voorsien nie. Die filosoof moet bloot deur te dink en die volg van logiese reëls tot insig kom.

Plato bou op Parmenides en kombineer dit verder met die insigte van Herakleitos. Plato interpreteer Herakleitos as 'n filosoof wat die mening huldig dat alles rondom ons beweeg en verander en dat dus niks één bly nie. "Ons kan nooit twee keer deur dieselfde rivier stap nie" volgens Herakleitos (konsep van alles vloei - panta rhei). Tog stel Plato dit dat die mens in staat is om vaste en sekere kennis te verkry oor bepaalde sake, ondanks daarvan dat alles wat ons in die ervaring teëkom veranderlik is. Hieruit besluit Plato dat kennis gefundeer moet word in iets anders as die sintuiglike wêreld, naamlik in die denke, en meer konkreet in die herinneringe van die Idees wat die mens al besit van voor sy geboorte, maar slegs vergeet is (anamnese). Bekend is sy allegorie van die grot waarin hy metafories die tog beskryf wat die filosoof moet aflê. Die filosoof moet die sintuiglike illusies oorkom en opgaan na die Ideëwêreld en daar via die rede die Idee self aanskou om tot ware kennis te kom. Die platonisme het in die verdere geskiedenis van die filosofie 'n groot invloed. Dit blyk byvoorbeeld uit die neoplatonisme van Plotinus.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]

Ook in die Middeleeue was die rasionalisme van belang. Teoloë soos Augustinus van Hippo neem die Ideëleer van Plato oor, maar in 'n aangepaste vorm. So plaas hy die Idees nie in 'n aparte (intelligente) wêreld nie, maar in God self. Deur die lig van God was die mens in staat tot kennis. Kennis moes dan ook gesoek word in die rede, die deel van die mens wat die nouste aansluit by God. 'n Ander tendens wat aantoon dat ook in die vroeë Middeleeue 'n sterk rasionalistiese denke aanwesig was, is te vind in die werk van Berengarius van Tours. Berengarius prys die logika en dialektiek in De sacra coena adversus Lanfrancum as hoogte goed en gebruik dit selfs om Christelike dogmas soos die transsubstansiasie te kritiseer. Hy word onder andere deur Lanfranc van Bec, waarteen hy in 'n vroeë werk skryf, beskuldig van die feit dat hy die kerklike gesag nie erken nie. Sy eie, 'rasionele' weergawe van die doktrine word in 1050 deur die Rooms-Katolieke Kerk verwerp. Hierdie dialektiese denkers, wat die logika 'n besonderse gesag gee, staan teenoor sogenaamde fideïste wat stel dat die rede nie van enige nut was vir geloofsartikels is nie. Voorbeelde van fideïste in hierdie tyd was Petrus Damiani en Manegold van Lautenbach.

Verder voorbeelde van Middeleeuse rasionalisme is byvoorbeeld ook die ontologiese godsbewys wat deur Anselmus van Kantelberg in Proslogion (1078) geformuleer is, wat bloot op die basis van konsepte en denke die (noodsaaklike) bestaan van God probeer aantoon het. Die mees tipiese element van die Middeleeuse rasionalisme, wat in die moderne tyd ook verdwyn het, is dat kennis hier sterk gebaseer word op die gesag (van die Kerk en vroeëre teoloeë) en openbaringe (van uit die Bybel).

In die latere Middeleeue, byvoorbeeld tydens die opkoms van die skolastiek sal die rasionalisme in belanrikheid afneem, hoewel, dit nog grotendeels behoue bly. Dit word vanaf die 13de eeu gekombineer met insigte van Aristoteles, wat as empiris beskou kan word. Die nominalisme van Willem van Ockham, waarin konsepte nie meer as onafhanklike Idees (in God) gesien word nie, maar as produkte van die menslike gees, kan beskou word as 'n oorgang na die moderne rasionalisme.

Descartes, Spinoza en Leibniz

[wysig | wysig bron]

Die rasionalisme word veral hoog geag in die tydvak van René Descartes, Baruch Spinoza en Gottfried Leibniz. In hierdie tydvak neem die belang geheg aan rol van God in die filosofie af. Ten spyte hiervan bly God nog steeds as uiteidelike fondament aangesien die rede beskou word as in staat tot sekere kennis, omdat dit so deur God geskape is. 'n Ander belangrike nuwe element in hierdie filosofie was die opkoms van die moderne wetenskap en die wetenskaplike metode. Dit het vir 'n groot opbloei van die empirisme gesorg, waardeur daar 'n ware stryd ontstaan tussen die rasionalisme en empirisme wat eers deur Immanuel Kant besleg sal word.

Die rasionalisme beskou veral die moderne wiskunde as betekenisvolle voorbeeld vir die denkrigting. Descartes streef byvoorbeeld na 'n Mathesis Universalis en Leibniz na 'n Scientia Generalis. In Discours de la Méthode (1637) verduidelik Descartes sy visie vir 'n nuwe, metode om te volg vir die filosofie asook vir elke wetenskap waarvolgens die wiskunde as sentrale voorbeeld dien. Belangrik is veral die konstruktiewe element in die wiskundige metode, waarvolgens mens vertrek van enkele basisbeginsels, axiomas, waarop verder gebou word en tot nuwe "bewyste" stellings daargestel word. Hierdeur moet mens wel eers vaste vertrekpunte vind van waaruit mens nuwe stellings kan bewys. Hierdie vertrekpunte ondersoek Descartes in sy werk Meditationes de prima philosophia (1641). Hierin betoog hy dat via 'n metodiese twyfel, waarvolgens 'n mens alles waarin enigsins twyfel is as onseker verwerp moet word, 'n reeks helder en welonderskeide beginsels geidentifiseer kan word (des idées claires et distinctes). Hiervolgens kom Descartes dan ook tot sy beroemde stelling "ek dink dus bestaan ek."Descartes meen dit is onmoontlik om te twyfel aan die feit dat die mens dink. So het Descartes dan sy eerste sekerheid. Vervolgens probeer hy die bestaan van God te bewys via 'n reeks godsbewyse. Wanneer God bewys is, is eweneens die bestaan van die buitewêreld seker. Dat die filosofiese skeptisisme waar sou wees, en dus die buitewêreld eindelik 'n illusie is, strook nie met die gegewe dat God 'n waaragtige en goeie God is wat die mens nie wil bedrieg nie. Hierdeur kan verseker word dat mens nie bedrieg word nie.

Die rasionalisme word nog verder uiteengesit deur Leibniz en Spinoza. Leibniz is daarvan oortuig dat as ons die wiskundige metode net korrek sou toepas, ons alle probleme, soos politieke en sosiale, sou kon oplos asof ons die beginsituasie bloot moes invoer in 'n masjien en die antwoord daar eenduidig uit sou kom. Spinoza sal die rasionalistiese model uitwerk in sy magnum opus, naamlik die Ethica (1678). Hierin pas hy die metode van Descartes sorgvuldig toe en probeer sy filosofiese stellings werklik te bewys asof dit om wiskundige stellings gaan. Hy vertrek van 'n reeks duidelik geformuleerde axiomas en lei daar stap vir stap sy gevolgtrekkings daaruit af.

Die agteruitgang van die rasionalisme

[wysig | wysig bron]

Die wens van die rasionalisme om alle wetenskappe na die wiskundige model te hervorm, misluk. Vinning blyk dit dat baie wetenskappe, soos die skeikunde en natuurkunde, veel sterker op die ervaring steun as wat die rasionaliste wil toegee. Isaac Newton sal byvoorbeeld onomwonde in sy Philosophiae Naturalis Principia Mathematica (1687) dat hy die rasionalisme verwerp. Hy betoog dat mens die axiomas en eerste beginsels nie moet sien as vanselfsprekend en suiwer intellektueel insigtelike gegewens nie, maar dit daarenteen "afgelei" moet word uit die ervaring self. Bekend is byvoorbeeld sy uitspraak: Hypotheses non fingo (moet nie raamwerke vir hipoteses stel nie). So pas Newton perfek in die opponerende stroming van die empirisme. 'n Empiristiese filosoof soos John Locke sal in sy Essay concerning Human Understanding (1690) dan weer stel dat die menslike gees geen aangebore idees besit, maar slegs 'n skoon blad (tabula rasa) is, waarop die kennis "geskryf" word deur die opdoen van ervaring.

Die dooiepunt tussen die rasionalisme en empirisme word opgehef in die werk van Immanuel Kant en sy transendentale idealisme. Hoewel Kant van oorsprong ook 'n rasionalis was, herbedink hy sy posisie toe hy in kontak kom met die werk van die empiristiese filosoof David Hume. Hy gaan wel nie sover om die empirisme in sy radikale vorm, soos Hume dit vorm gee, te aanvaar nie. Die empirisme kon die suksess van die wetenskap volgens Kant immers nie verklaar nie. Daarom kom hy in sy Kritik der reinen Vernunft (1781) as die ware tot 'n sintese van beide strominge. Kennis kom tot stand deur 'n kombinasie van die rede en die ervaring. Kennis kan nie sonder ervaring omdat die andersins inhoudsloos en leeg sou wees, want daar is geen vaste ingebore kennis nie. Andersyds kan kennis ook nie sonder die rede, want dan sou die mens nooit in staat wees die stroom van ervarings op aanvaarbare manier te orden en te interpreteer. Ervaring is dus nodig, maar dit word ewegoed bewerk deur die kategorieë van die verstand.

Die rasionalisme het as filosofiese stroming na Kant amper heeltemal verdwyn. Daar is geen werklike groot filosofiese figure wat hulself volkome met die rasionalistiese program vereenselwig nie, soos Descartes dit gedoen het nie. Tog tipeer Karl Popper sy wetenskapsfilosofie in die 20ste eeu tog as 'n "kritiese rasionalisme". Hy wil homself veral distansieer van die klassieke empirisme in die wetenskapsfilosofie en stel dat die wetenskaplike altyd eers van 'n teoretiese hipotese moet vertrek en nie van "suiwere waarnemings" nie. Ook die filosoof Laurence BonJour verdedig 'n beskeide variant van die rasionalisme. Verder het die stelling van die rasionalisme dat (bepaalde) kennis aangebore is, ook nog sy voorstanders soos in die denke van Noam Chomsky en Jerry Fodor.

  • Hierdie artikel is vertaal uit die Nederlandse Wikipedia