Gaan na inhoud

Tropiese siektes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Tropiese siektes is siektes wat slegs of veral in die trope en subtrope voorkom. Die rede hiervoor kan wees dat die veroorsakende organismes aan ʼn warm klimaat gebonde is, maar baie tropiese siektes is die gevolg van 'n lae lewenstandaard en swak higiëne.

Siektes wat slegs of veral in die tropiese en subtropiese gebiede voorkom, word tropiese siektes genoem. Baie van hierdie siektes is niks anders nie as siektes weens ondervoeding, wanvoeding, swak higiëne, onkunde en armoede. Slegs enkele siektes is egter tropiese siektes in die sin dat hulle alleen in die trope op 'n natuurlike wyse kan optree. Sommige van die siektes word oorgedra deur insekte wat in die tropiese of subtropiese gebiede voorkom; by ander (byvoorbeeld ʼn wurmsiekte soos bilharziase) is ʼn tussengasheer nodig wat in slegs die trope voorkom.

Die siektebeeld word dikwels in die trope gekompliseer deur bykomende faktore soos ondervoeding, wurminfeksies, opflikkerende malaria en disenterie ('n siekte wat deur 'n bakterium of ʼn amoeba veroorsaak word en wat gekenmerk word deur buikpyn en diarree met slym- en/ of bloedverlies). Namate meer mense die tropiese gebiede vir kort of langer tye besoek en na gelang meer mense na Europa en Suid-Afrika, ensovoorts, immigreer, word tropiese siektes al hoe belangriker, aangesien dit verder versprei (in sulke gevalle bekend as "invoersiektes").

Protosoïese en wurmsiektes

[wysig | wysig bron]

Die belangrikste van die egte tropiese siektes is malaria tropica, wat ook die gevaarlikste "invoersiekte" na Wes-Europa is. Indien pasiënte met tropiese malaria nie vinnig genoeg behandel word nie, kan die siekte dodelik wees. Die ander vorme van malaria is meer goedaardig. Die verskillende tipes slaapsiektes (tripanosomiase) wat in Afrika voorkom, word veroorsaak deur Trypanosoma gambiense (Wes-Afrika) of deur Trypanosoma rhodesiense (Oos-Afrika), wat eensellige organismes (Protozoa) is en wat oorgedra word deur die steek van ʼn tsetsevlieg (genus Glossina), wat slegs in tropiese Afrika voorkom.

Die inkubasietyd (die tyd wat tussen die opdoen van die infeksie en die eerste siekteverskynsels verloop) is ongeveer 2 weke. Die pasiënt het ʼn onreëlmatige, hoë koors, chroniese hoofpyn en ‘n tipiese klierswelling; later word hy suf en apaties en teer langsaam weg. Aan hierdie laaste verskynsel ontleen slaapsiekte sy naam. Indien slaapsiekte vroeg genoeg gediagnoseer kan word, is genesing nog moontlik, maar in die laaste stadium is genesing selde moontlik.

Die Suid-Amerikaanse slaapsiekte (Chagas se siekte), wat deur Trypanosoma cruzi veroorsaak en deur weeluise (wat veral in armoedige behuising voorkom) oorgedra word, kan 'n vinnige verloop hê, met 'n hoë koors gepaard gaan en dodelik wees. Dikwels kan dit ook as ʼn chroniese vorm voorkom, met gepaardgaande hartafwykings. 'n Ideale behandeling bestaan nie. Kala-asar (visserale leishmaniase) het in die verlede miljoene slagoffers geëis, maar kom teenswoordig minder voor omdat die oordraer, Phlebotomus (muskietspesie), op baie plekke verdwyn het as gevolg van die gebruik van insektedoders.

Die organisme wat hierdie siekte veroorsaak, is Leishmania donovani. Na 'n inkubasietyd van soms meer as 'n jaar tree chroniese koors en lewer- en miltvergroting in en soms is daar ook velveranderinge: die woord kala-asar beteken "swartsiekte". Hierdie siekte kom veral in die Verre Ooste voor, maar ook in Suid-Amerika en Afrika en sporadies in Suid-Europa (onder meer in Spanje). Indien kala-asar nie behandel word nie, lei dit tot die dood. Velleishmaniase kom in baie dele van die trope voor en staan onder verskeie plaaslike name bekend, soos aleppobuil, bosyaws, espundia en uta. Die siekte bestaan uit chroniese velswere; by espundia word die mond- en neusslymvlies ook aangetas.

Sonder behandeling genees die siekte tog, maar laat lelike littekens. Schistosomiase (bilharziasis, bilharziase, bilharzia) is 'n wurmsiekte wat in verskillende vorme alleen in tropiese gebiede en streke met 'n warm klimaat voorkom omdat die tropiese varswaterslak die onontbeerlike tussengasheer is.

Infeksies met filariawurms kom net in sekere dele van die trope en in warm gebiede voor omdat die oordraer-insekte net daar voorkom. Strongyloides stercoralis is ʼn wurmspesie wat vir sy lewensiklus buite die mens 'n warm klimaat nodig het. Bykomstig by hierdie protosoïese en wurmsiektes is daar nog verskeie afwykings wat deur die geleedpotiges (Arthropoda) in tropiese, subtropiese en warm gebiede veroorsaak word.

Virale en bakteriële siektes

[wysig | wysig bron]
'n Aedes aegypti-muskiet voed vanaf 'n mens.

Geelkoors is 'n virussiekte wat oorgedra word deur 'n muskiet, Aedes aegypti. Die inkubasietyd is slegs enkele dae. Die infeksie verloop dikwels ongemerk of lyk soos ʼn ligte aanval van geelsug. Die ernstige vorm, wat met 'n hoe koors gepaard gaan, 'n duidelike geelsug vertoon en deur nierafwykings en bloedings gekenmerk word, is meestal dodelik.

Groot epidemies het in die verlede al baie slagoffers in tropiese Amerika en Afrika geëis. In die bosgebiede van die trope dien ape as reservoir vir die geelkoorsvirus. Vanaf die reservoir- gasheer versprei die virus na die mense in die oerwoud, en die siekte word dan die sogenaamde "oerwoudgeelkoors" genoem. 'n Spesifieke behandeling is onmoontlik. Inenting beskerm die mens ongeveer 10 jaar. Denguekoors (knokkelkoors) word deur 'n naverwante virus veroorsaak en ook deur muskiete van die genus Aedes oorgedra.

Die siekte verloop soos griep, met ʼn vlekkerige veluitslag. In sommige gebiede kom 'n tipe denguekoors voor wat met ernstige bloeding gepaard gaan en dikwels tot die dood lei. Febris recurrens, veroorsaak deur 'n spiraalvormige bakterium van die genus Borrelia, is 'n siekte met ʼn tipies stygende en dalende koorsverloop. Daar bestaan onder meer ʼn ernstige epidemiese vorm wat via luise van mens tot mens versprei maar deur antibiotika beheer kan word.

Rickettsiose is 'n siekte wat deur die Rickettsia-spesies (mikroörganisme-groep tussen die virusse en bakterieë) veroorsaak word. Die belangrikste rickettsiose, vlektifus (luistifus; typhus exanthematicus), het vroeër ook in kouer dele voorgekom. Dit word deur luise van mens tot mens oorgedra en kan epidemiese afmetings aanneem. Simptome sluit in 'n hoë koors, ʼn kleinerige, vlekkerige uitslag en ʼn beneweling van die bewussyn. Die ander tipes rickettsiose (vanaf diere) wat sporadies by die mens voorkom, is minder gevaarlik en word deur vlooie en myte oorgedra. Antibiotika is 'n effektiewe geneesmiddel. Brusellose (maltakoors) word deur die bakterium Brucella veroorsaak en is van belang in tropiese gebiede.

Dit is 'n siekte wat by koeie en bokke voorkom en na die mens oorgedra word deur inname van besmette melk en melkprodukte. Die simptome is 'n tipies golwende koorsverloop, sweet, vergrote lewer en milt, gewrigs - en neurologiese klagtes. Die siekte kan met antibiotika bestry word. Frambesie is 'n siekte wat deur direkte kontak met 'n besmette persoon oorgedra word. Die veroorsakende organisme is Treponema pertenue, 'n bakterium wat moeilik onderskeibaar is van die Treponema-spesies wat sifilis veroorsaak.

Die eerste stadium van hierdie siekte bestaan uit 'n enkele sweer; tydens die tweede stadium ontstaan baie vratagtige swere wat soos 'n framboos lyk (vandaar die naam). In die derde stadium word onder meer ook die beendere aangetas. Deur massaprojekte waartydens penisillien-inspuitings toegedien is, is hierdie siekte in die meeste lande uitgeroei. Tropiese swere wat meestal aan die onderbene voorkom, word veroorsaak deur kombinasies van bakterieë en genees moeisaam. Rus, nat verbande en antibiotika versnel genesing.

Ander tropiese siektes

[wysig | wysig bron]

Kwasjiorkor is 'n ernstige toestand van ondervoeding wat vir die eerste keer in Ghana beskryf is en in veral Afrika voorkom. Die oorsaak is 'n tekort aan proteïene, gekombineer met ʼn vitamiengebrek. Kwasjiorkor kom by veral kinders tussen 1 en 4 jaar voor wanneer hulle nie meer borsvoeding en ook geen plaasvervangende kleutervoeding kry nie. Simptome is swak groei, velafwykings, diarree, braking, 'n tipies rooierige velverkleuring en haaruitval. Die kind word huilerig en wil nie eet nie en die lewerfunksie verswak.

By ver gevorderde kwasjiorkor verg die behandeling baie geduld. 'n Oorerflike vorm van hemolitiese anemie (hemolise = bloedafbraak, anemie = bloedarmoede) is sekelselanemie. Diegene wat die abnormale faktor by die vader en die moeder oorgeërf het (homosigoot), ly aan chroniese bloedarmoede en kry gereeld koors- en pynaanvalle in die ledemate. Meestal sterf die pasiënt op 'n jeugdige leeftyd. Diegene wat die faktor slegs by een ouer geërf het (dus heterosigoot is), het weinig of geen klagte nie, maar kan die siekte wel aan die nageslag oordra.

'n Ander erflike vorm van hemolitiese anemie is talassemie. Ook hier sterf die homosigote (thalassaemia major) vroeg, terwyl die heterosigote (thalassaemia minor) nouliks 'n klagte het. By baie besoekers aan die trope kom reisigersdiarree voor. Dikwels blyk dit dat die patogene (siekteverwekkende) stamme normaalweg onskuldige dermbakterieë is.

Meestal duur die diarree net 'n paar dae. Baie siektes wat gewoonlik as tropiese siektes gereken word, het vroeër ook in gematigder streke voorgekom, maar is deur onder meer verbeterde higiëne en voeding as 't ware na die trope teruggedwing (byvoorbeeld melaatsheid, cholera, pes en pokke). Salmonellose (tifoïed (maagkoors) en paratitoïed) en basillêre disenterie kom wêreldwyd voor, maar word tog meestal tot tropiese siektes gereken omdat dit in die trope baie meer voorkom, net soos giardiase, amoebiase (parasitiese siektes), vitamiengebreksiektes (byvoorbeeld beri-beri, pellagra), velsiektes (byvoorbeeld skimmelsiektes) en oogsiektes (byvoorbeeld tragoom).

Baie van hierdie aansteeklike siektes wat oral aangetref word, vorm in die trope 'n spesiale probleem, nie net omdat die voorkoms en frekwensie veel groter is nie, maar ook omdat die siekteverloop dikwels afwyk van waaraan die geneesheer gewoond is. Tuberkulose word byvoorbeeld dikwels glad nie of te laat herken en onvoldoende of glad nie behandel nie. As gevolg hiervan kom die siekte dikwels in 'n gevorderde stadium voor en is die besmettingskans veel groter.

Dit geld ook veral vir gonorree en ander geslagsiektes. Siektes soos masels en kinkhoes verloop dikwels ernstiger, het meer komplikasies en laat die kind dikwels met 'n toestand van kwasjiorkor. Tetanus kom in die trope baie by pasgeborenes voor omdat die plek waar die naelstring afgebind is, gekontamineer word met tetanus-spoorbevattende grond. Hierdie tetanus neonatorum verloop dikwels dodelik.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]