Set (god)

Egiptiese god

Set of Seth (ook Setesj of Soetech) was in die Egiptiese mitologie ’n god van storms, die woestyn en chaos. Hy is die troonrower wat sy broer, Osiris, vermoor, die stukke van sy liggaam oor die aarde uitstrooi en sy bewind oorneem. Daarna maak Osiris se vrou en suster, Isis, sy liggaam bymekaar en maak dit weer heel. Sy wek hom vir lank genoeg op om vir haar ’n seun, Horus, te gee. Horus veg daarna teen Set; in die Osiris-mite word hul konflik weergegee.

Set
Set, die god van storms, die woestyn en chaos.
Set, die god van storms, die woestyn en chaos.
Soort god  Egipties
God van Storms, die woestyn en chaos
Naam in hiërogliewe
swWt
x
E20A40
Simbool Die was
Ouers Geb en Noet
Sibbes Osiris, Isis, Nephthys
Metgesel Nephthys, Anat, Astarte
Kinders Anoebis
Portaal  Portaalicoon   Antieke Egipte

Familie

wysig

Set se sibbes was Osiris, Isis en Nephthys. Set en Nephthys se seun was Anoebis. In sommige mites het hy verhoudings met ander godinne ook gehad: Hathor, Neith en die buitelandse godinne Anat en Astarte.[1]

Uitbeelding

wysig

Set is meestal uitgebeeld as ’n eksotiese wese met ’n geboë snoet, lang en driehoekige ore, ’n gevurkte stert en hondagtige liggaam. Dit lyk soos geen bekende dier nie, hoewel dit beskou kan word as ’n mengsel tussen ’n aardvark, donkie en jakkals. Daar is ook trekke van ’n kameelperd. In latere uitbeeldings het hy die kop van ’n donkie.[2]

 
Beelde van Osiris en van Isis met die baba Horus.
 
Set steek Apep met ’n spies.

Die Osiris-mite

wysig
Hoofartikel: Osiris-mite

Die mite oor Osiris se dood en opvolging is die grootste versameling van al die Egiptiese mites.[3] In die eerste deel van die mite word Osiris, wat verbind word met beide vrugbaarheid en koningskap, vermoor en sy posisie ingeneem deur sy broer, Set. In sommige weergawes word Osiris selfs opgesny en die dele van sy lyk oor Egipte gestrooi. Osiris se suster en vrou, Isis, maak haar man se liggaam weer heel.[4] Sy gee vir ’n kort rukkie weer lewe aan Osiris om ’n erfgenaam by hom te kry: die god Horus.[5]

Die volgende deel van die mites handel oor Horus se geboorte en kinderlewe. In die derde fase van die mite ding Horus met Set mee om die koningskap. Daar is twee verskillende eindes aan die konflik: een waarin Egipte verdeel word onder twee aanspraakmakers, en een waarin Horus die alleenheerser word. In laasgenoemde weergawe simboliseer die troonbestyging van Horus, Osiris se regmatige erfgenaam, die herstel van maät ná die onregmatige heerskappy van Set.

Beskermer van Ra

wysig

Set is soms uitgebeeld waar hy op die songod, Ra, se boot staan en Apep, in die vorm van ’n slang, seeskilpad of ander gevaarlike waterdier, met ’n spies steek. In latere tydperke is hy in die proses uitgebeeld met die kop van ’n valk, dus in die vorm van Horus. In die Amdoeat het Set ’n sleutelrol in die verslaning van Apep.

Set as duiwelse wese

wysig

Volgens Herman te Velde het Set die vorm van ’n duiwelse wese aangeneem ná Egipte se verowering deur verskeie vyande in die Derde Oorgangstydperk en Laat Tydperk. Set, wat tradisioneel die god van buitelanders was, is dus verbind met die buitelandse verdrukkers, soos die Assiriërse en Perse.[6] In dié tyd is sy verslaning deur Horus wyd gevier.

Die Grieke het Set later verbind met Typhon uit die Griekse mitologie; albei was bose kragte, die god van storms en seuns van die aarde wat die hoofgode aangeval het.

Verwysings

wysig
  1. Oxford Encyclopedia of Ancient Egypt, vol. 3, p. 270
  2. H. te Velde, Seth, God of Confusion: A Study of His Role in Egyptian Mythology and Religion, Probleme der Ägyptologie, 6 , G. E. van Baaren-Pape, vert. (W. Helck. Leiden: Brill 1967), pp.13-15.
  3. "Of God and Gods", Jan Assmann, p47-48, University of Wisconsin Press, 2008, ISBN 0-299-22550-X
  4. Hart, George (1990). Egyptian Myths. University of Texas Press. ISBN 0-292-72076-9.
  5. Pinch, Geraldine (2004). Egyptian Mythology: A Guide to the Gods, Goddesses, and Traditions of Ancient Egypt. Oxford University Press. ISBN 0-19-517024-5.
  6. .H. te Velde, Seth, God of Confusion: A Study of His Role in Egyptian Mythology and Religion, Probleme der Ägyptologie, 6 , G. E. van Baaren-Pape, vert. (W. Helck. Leiden: Brill 1967), pp. 138–140.

Eksterne skakels

wysig