Gaan na inhoud

Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Koördinate: 29°6′59.87″S 26°12′59.72″O / 29.1166306°S 26.2165889°O / -29.1166306; 26.2165889
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
NALN, geleë in President Brandstraat, aan die bopunt van Maitlandstraat, Bloemfontein.
Syaansig van die Ou Goewermentsgebou, waarin NALN ingerig is.
NALN in Bloemfontein.

29°6′59.87″S 26°12′59.72″O / 29.1166306°S 26.2165889°O / -29.1166306; 26.2165889 Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is 'n sentrale bewaarplek vir materiaal en inligting oor die geskiedenis, ontwikkeling en omvang van die Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel. NALN is in 1973 deur die Vrystaatse provinsiale owerheid gevestig en is in Bloemfontein gesetel. Dit word as 'n organisasie sonder winsbejag bestuur. Die besoektye is Maandag tot Vrydag, 8:00 – 16:00.[1]

NALN se versamelings omvat 'n beraamde driekwartmiljoen items.[2] Dit bevat versamelings van boeke, manuskripte, tydskrifte, koerante, uitknipsels, bladmusiek, plakkate en programme, 'n oudiovisuele versameling, asook ander unieke bewarenswaardighede. Daarnaas kan meublement en personalia uit skrywers en andere se literêre nalatenskap daar besigtig word.

Aan die voorkant is ’n tuin waar verskeie hoogwaardigheidsbekleërs deur die jare bome geplant het. Borsbeelde van skrywers, musici en toneelkunstenaars is onder die bome op voetstukke aangebring.

Gebou

[wysig | wysig bron]

NALN is in die Ou Vrystaatse Goewermentsgebou ingerig. Die gebou is in opdrag van pres. J.H. Brand gebou om departemente van die Vrystaatse Republiek te huisves. Die onderste verdieping se voorste gedeelte is deur Richard Wocke ontwerp en die hoeksteen is op 31 Mei 1875 deur pres. Brand gelê. In 1895 is ’n tweede verdieping aangebou, wat deur J.E. Vixseboxse ontwerp is. Die res van die gebou is deur sir Herbert Baker, die argitek van die Uniegebou in Pretoria, ontwerp en is in 1906 voltooi.[3]

Op 28 Oktober 1908 is die gebou in ’n brand verwoes. Dit is daarna tussen 1909 en 1911 grotendeels volgens die planne van sir Herbert Baker herbou. Die verbeterings, veral in die vooraansig en toring, is die werk van die regeringsargitek F. Taylor. Die toring is onder andere slanker en 10,5 m hoër as die oorspronklike toring en met ’n uitgebeitelde kroon afgerond.

Vanaf 1877 tot 1902 was die Ou Goewermentsgebou die setel van die Regering van die Vrystaatse Republiek. Die Vrystaatse Volksraad het van 1877 tot in 1893 in die Derde Raadsaal vergader. Daarna het dit as die setel van die Regering van die Oranjerivierkolonie gedien. Sedert 1911 is dit deur die Vrystaatse Provinsiale Administrasie gebruik. In 1972 is die gebou tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die RGN begin in 1970 met uitstallings in die gebou, asook 'n dokumentasiesentrum vir taal en lettere. Uit die dokumentasiesentrum het die Letterkundige Museum in Bloemfontein ontwikkel. Op 9 Oktober 1972 kondig die Administrateur van die Vrystaat, advokaat G.F. van L. Froneman, die vestiging van ’n Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) aan. Op 24 Maart 1973 is die NALN amptelik deur J.P. van der Spuy, die destydse Minister van Nasionale Opvoeding, geopen.

Van 1996 fokus NALN op die werk van die sogenaamde "swart" en "gekleurde" Afrikaanse skrywers en brei die versameling het hul werk uit.

In 1994 begin NALN hom vir 'n literêre museum vir Sotho beywer (soos Afrikaans, een van die land se 11 amptelike tale). Die museum is in 1999 amptelik aangekondig en in 2006 met behulp van NLAN se personeel en fondse oopgemaak.

Die geleidelike afskaling in prioriteit en kapitaal het 'n herstrukturering in 2007 genoodsaak wat tot 'n groot verlies aan professionele kundigheid gelei het. Departementeel is die instelling se naam na die Afrikaanse Letterkundige Museum (ALM) verander, en dit word nou as 'n plaaslike instelling binne die Vrystaat Provinsie bedryf.

'n Mislukte poging om die gebou op te knap het sedert 2002 tot 'n ses jaar lange ontwrigting van aktiwiteite gelei. Uitstallings van 1 500m² moes verwyder word en daarna van voor af ontwikkel word om die verloop van Afrikaanse letterkunde van 'n post-1994 perspektief uit te beeld.[4]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Korthuys, Piet: 'n Museum vir Letterkunde. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 10, nr. 1, September 1960

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Inligting op afrikanergeskiedenis.co.za Geargiveer 23 Mei 2020 op Wayback Machine, besoek op 2 Februarie 2017
  2. Inligting oor NALN op fssacr.gov.za, besoek op 2 Februarie 2017
  3. NALN. 1989. Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 112–113.
  4. Inligting op culturalheritageconnections.org Geargiveer 25 Desember 2016 op Wayback Machine, besoek op 2 Februarie 2017